Akademie
"Ons hoofdoel is om ‘n liefde vir skool by die leerders te kweek"
Laerskool President steyn
In die Grondslagfase
is dit vir ons belangrik om vir leerders ‘n veilige en aangename omgewing te skep waarin hulle in ‘n rustige en ontspanne atmosfeer onderrig kan word en waar hulle gelei word tot karakterontwikkeling en ‘n waardegedrewe lewe.
Omdat dit die begin van ‘n leerder se formele skoolloopbaan is en alle basiese kennis en vaardighede hier ontwikkel en vasgelê word. Sodoende word verseker dat elke leerder individuele aandag kan ontvang en dat daar ook op ’n daaglikse basis by die emosionele ontwikkeling van ’n kind stilgestaan kan word.
In hierdie fase heers daar ‘n sterk leerkultuur met deernisvolle leerkragte wat deurgaans werk van hoogstaande gehalte lewer sodat dit tot goeie prestasies op akademiese gebied lei. In ons strewe daarna om kwaliteit onderrig vir elke leerder te verseker en om leerders tot hulle volle potensiaal te sien ontwikkel, gee ons baie aandag aan beide remediëring en verryking. Ondersteuning in die vorm van klasse in klanke, lees en Wiskunde word op ‘n baie informele en interessante wyse aan leerders gegee wat dit moeiliker vind om die werk baas te raak en spesiale aandag word ook aan verrykingsaktiwiteite gegee.
Ons poog deurgaans om gelukkige en gesonde verhoudings tussen die leerders, die onderwysers en die ouers uit te bou deur ‘n spanbenadering te volg. Elkeen van ons grondslagfase onderwyseresse heg groot waarde aan kommunikasie met ons ouers en daarom word ouers gereeld op hoogte van sake gehou.
Om elke dag deel van ‘n kind se vordering en vorming as mens te kan wees, dien as motivering vir die leerkragte om daagliks goed voorbereid te wees en deurgaans aan nuwe planne te dink sodat ons die leerders in ons klasse in totaliteit kan opvoed en ontwikkel! Ons hoofdoel in die Grondslagfase is om ‘n liefde vir skool by die leerders te kweek en om hulle opgewonde oor die leerproses te maak deur hulle deurgaans nuwe dinge te laat ontdek en hulle kreatiewe en onafhanklike denke te stimuleer.
Aan die einde van hierdie fase is die leerders in staat om onafhanklik en selfversekerd te werk, gereed vir hulle nuwe avontuur in die Intermediêre fase. Ons glo hulle is dan reg vir graad 4 en dat hulle oor die nodige sosiale, emosionele en akademiese vaardighede beskik en dat al die geleenthede wat hulle hier, in die Grondslagfase gehad het, gesorg het vir selfontwikkeling en groei.
Graad 4 – 7-leerders
Graad 4 – 7-leerders ontvang onderrig in 6 vakke en Graad 7-leerders in 9 soos uiteengesit in die Kurrikulum Assesseringsbeleid Verklaring (KABV).
Die leerders volg in die eerste en derde kwartaal ‘n toetsrooster en in Junie en November word ‘n eksamen afgelê. Die KABV vereis ook dat die leerders gedurende die derde kwartaal aan projekte blootgestel word. Hierdie projekte word so ver moontlik in die klas voltooi.
Deurlopende assessering verseker dat opvoeding en onderrig van ‘n hoë kwaliteit is en dat leerder, onderwyser en ouer op ‘n deurlopende basis op hoogte gehou word van ‘n leerder se vordering. Verslae word aan die einde van elke kwartaal uitgereik. Ouers het die geleentheid om, na die ontvangs van die kwartaallikse verslag, dit met die onderwysers te bespreek tydens oueraande.
Leerders ontvang gedurende die jaar sertifikate vir sport en kultuur. Na afloop van die Junie- en November eksamens, word akademiese prestasie sertifikate oorhandig aan leerders wat uitmuntend presteer
‘n Hoë premie word op akademiese werk geplaas. Daar word deur middel van differensiasie na elke leerder se spesifieke behoeftes omgesien en individuele hulp word sover moontlik verleen.



